Sending toer na Concordia

Geseënde naweek in Rynse geselskap

Ek was bevoorreg om die pasafgelope naweek in die geselskap te verkeer van ‘n toergroep van die Rynse Kerk van Suid-Afrika, wat op ‘n historiese besoek aan Concordia was. Dié groep was onder die leiding van Ds. Tommy Solomons, bekende stem op Radio Sonder Grense (RSG) se Oggenddiens. Hulle was natuurlik nuuskierig oor die Rynse geskiedenis van Concordia, aangesien ons dorp ook desjare (1863 – 1932) ‘n Rynse Sendingstasie was. Hier het leraars lank en geseënde werk gedoen, voordat die Rynse Sendinggenootskap hul werksaamhede aan die NG Kerk oorhandig het, nadat hulle in 1932 ‘n ooreenkoms met laasgenoemde gesluit het. Die laaste Rynse sendeling wat op Concordia gearbei het, was Eerwaarde August Hanefield.

Een van die Rynse sendelinge wat ‘n groot bydrae gelewer het tot Concordia se ontwikkeling en vooruitgang was Eerwaarde Michael Johannes Dönges. Hy het vir 33 jaar lank in Concordia gearbei en het in 1904 sy emeritaat aanvaar. Een van sy seuns, was Ds. Theophilus Dönges, wat in sy vader se voetspore gevolg het. Hy is 1949 te Kroonstad in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Ds. Dönges se seun, Eben Dönges, was die aangewese staatspresident van Suid-Afrika in 1967. Hy is egter oorlede voordat hy die amp van president kon beklee het. Daar is vandag nog ‘n hoërskool in Kraaifontein na hom vernoem. Hy het ‘n dogter wat verlede Saterdag, 29 April, haar 94ste verjaarsdag in Kaapstad gevier het. Me. Una Ramsy is dus ‘n agterkleinkind van Eerwaarde Michael Dönges. In ‘n interessante nuusinsetsel op die program Naweekaktueel op RSG het sy kinderlik opgewonde van haar oorle vader vertel. Dit is toevallig dat haar verjaarsdag en vermelde verbintenis met Eerwaarde Dönges en die Rynse Sendinggenootskap saam val met die historiese besoek van die Rynse toergroep vanuit die Wes-Kaap.

Op die einste Saterdag, verneem ons van die oorlye van Oom Nathaniël van Wyk (bekend as Oom Lawie) in die rype ouderdom van byna 92 jaar. Oom Lawie is van die laaste afgeteldes in die Concordia gemeente wat nog in die destydse Rynse Kerk gedoop is. Hy is op 06 Augustus 1931 gebore, en op 30 Augutus gedoop. Sy peetouers was Henry Williams en Anna Saal.

Vanuit hul uitgebreide program was een item om by ‘n paar van ons dorp se mees senior burgers besoek te gaan aflê. Ds. Solomons en sy gevolg het by oom Bennie Cloete aangedoen en geseënde oomblike beleef in sy geselskap. Hy is “92 punt 5” jaar oud, aldus oom Bennie. Hy is in 1930 gebore en is ook in die Rynse Kerk gedoop. Op die vraag aan hom, wat sy grootste begeerte op hierdie rype ouderdom is, het hy opreg geantwoord: “My grootste wens is dat die Here nie my verstand moet wegneem nie, want ek wil elke aand onthou om op my knieë te gaan en my oë op te slaan en Hom dank vir Sy getrouheid in my lewe.”

En op Sondag, 30 April, het daar na byna 91 jaar weer ‘n Rynse leraar die kerk se kansel bestyg. Die einste kerk wat in 1875 onder die leiding van Eerwaarde Dönges gebou is…

– emanual

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *